|
'n Bakker en 'n boer het 'n ooreenkoms. Die bakker
ontvang botter van die boer, en gee dan, in ruil daarvoor, brood vir
die boer. Na 'n tydjie kom die bakker agter dat die botter wat hy
van die boer ontvang, al ligter word. Die botter behoort 1 kilogram
te weeg.
Die bakker weeg die botter op sy weegskaal, wat
aandui dat dit heelwat ligter is as die oorspronklike 1 kilogram.
Die bakker kla die boer vir bedrog aan. "Die botter wat u aan die
bakker lewer is nie die ooreengekome gewig nie", sê die landdros
teenoor die boer. "Dit behoort 1 kilogram te weeg, maar dit is veel
minder."
"Dit is nie korrek nie u edelagbare", sê die boer,
"ek het dit elke keer geweeg".
"Dalk is u gewigte verkeerd", sê die landdros.
"Watter gewigte?", vra die boer stom verbaas. "Ek
het geen gewigte nie!"
"Maar waarmee weeg u dan as u geen gewigte het
nie?", vra die landdros.
"Heel eenvoudig", sê die boer. "Ek kry my brood van
die bakker en hy kry botter van my. 'n Brood weeg 1 kilogram. Dus
plaas ek my botter links op die weegskaal en die brood regs en so
weeg ek dit af." |