Besoek gerus:






 

 

 

Gasheer vir webwerwe

Jy soek 'n webwerf, maar jou groot vraag is hoe kry jy dit op die Internet? Daarvoor het jy 'n rekenaar nodig wat deel is van die Internet. Dit staan bekend as 'n Internetbediener (Eng: Internet server). Daar is miljoene Internetbedieners op die Internet (Let wel, nie aan die Internet nie). Die Internet word immers bewerkstellig deur al hierdie bedieners en die verbindings tussen hulle. Om dus te sê dat 'n bediener aan die Internet gekoppel is, is nie korrek nie. Jy kan jou eie rekenaar via 'n Internetdiensverskaffer aan die Internet koppel; dit is wel korrek.

Elkeen van hierdie Internetbedieners het 'n bepaalde Internetadres, algemeen bekend as 'n IP-adres (Internet Protokol-adres). As jy 'n webwerf het, dan word jou webwerf geassosieer met die IP-adres van die spesifieke Internetbediener waarop jou webbladsye geplaas is. Hierdie Internetbediener is dan die gasheer van jou webbladsye en dus jou webwerf.

Jy gaan 'n ooreenkoms met die eienaar van 'n Internetbediener aan om 'n gasheer vir jou webbladsye te wees. Daarvoor moet jy 'n fooi betaal. Daar is miljoene Internetgashere op die Wêreldwye Web, en 'n mens se kop kan behoorlik draai as jy na die bemarkingsmateriaal van sommige van die Internetgashere kyk. Aan die een kant van die spektrum kry jy die gashere wat dit gratis vir jou sal doen. Aan die ander kant van die spektrum is daar weer gashere wat jou 'n paar duisend Rand per jaar uit die sak gaan jaag. Wat maak jy?

Hier is 'n paar punte om te onthou:

Kies 'n gasheer met 'n hoë bandwydte (hoë spoed)-toegang tot die Internet. As die reaksietyd van jou webwerf stadig is, spel dit kort voor lank die dood van jou webwerf uit, veral as jou webwerf nog onbekend is. Jy het basies 10 sekondes nodig om 'n besoeker te probeer aankeer. As jou webbladsy baie langer as dit gaan neem om oop te maak, gaan die besoeker sy leser toemaak of na 'n ander webwerf beweeg.

Kies 'n gasheer met bewese prestasies. Hoe lank is die gasheer reeds in die bedryf? Doen 'n bietjie speurwerk op die Internet om te sien of daar nie 'n lang lys van klagtes mbt die gasheer is nie.

Vind uit wie die kliënte van die gasheer is. Jy kan redelik gerus voel as daar hoogaangeskrewe webwerwe op die gasheer se kliëntelys verskyn.

Kan die gasheer vir jou 99.9% aanlyntyd waarborg? Daar is niks so frustrerend as om 'n boodskap te kry dat die webbladsye wat jy soek nie beskikbaar is nie.

Sal die dienste wat die gasheer jou bied op die lang termyn aan jou vereistes kan voldoen? Sal dit moontlik wees om op te gradeer? Wat gaan dit kos indien jy wel sal wil opgradeer?

Wat is die standaard opsies wat die gasheer jou kan aanbied soos eposadresse, verspreidingslyste, "spam"- en virusfilters, databasisse, ens?

Waarom sal 'n gasheer 'n gratis diens verskaf? Baie van die gratis dienste kom met 'n baie hoë premie aan die einde van die dag. Die diens kan minderwaardig wees, of die gasheer kan 'n baie swak reputasie hê. Jy betaal dalk deur ongewensde en onwelvoeglike advertensies op jou webbladsye waaroor jy geen beheer het nie. Dit kan jou eie naam in die gedrang bring. Of, nog erger, jou webwerf (en jou domeinnaam) kan dalk sonder jou wete vir Internetmisdaad gebruik word. In die meeste gevalle waar 'n gratis diens aangebied word, gaan dit om die advertering van 'n produk of diens. Die aard van die diens wat die gasheer aan jou lewer is egter redelik beperk. Jy sal ook nie altyd jou domeinnaam na 'n ander gasheer kan oordra nie. As jy dan wel wil verskuif, sal jy weer van heel vooraf moet begin, met 'n nuwe domeinnaam.

Lokale gashere is nie noodwendig beter nie. Gevestigde internasionale gashere kan soms 'n beter diens met 'n groter bandwydte (spoed) teen 'n baie laer fooi lewer as wat lokaal beskikbaar is.

Dit hang egter steeds van jou eie behoeftes af watter gasheer jy gaan gebruik. As dit net vir persoonlike doeleindes en 'n nuusbrief dan en wan aan jou familie is, kan dit dalk volkome sin maak om 'n gasheer te gebruik wat vir jou gratis maar beperkte ruimte verskaf. Indien jy egter jou eie besigheid vanaf die Internet wil bedryf moet jy beslis verder kyk.